SportsoortOrganiseerder
AtletiekMe. Zuanique Schutte
RugbyMe. Eddie Bauling
Pumaki-rugbyMe. Via Fouché
NetbalMe. Chantelle Van Wyk
Mini-netbalMe. Zelda Botha
KrieketMe. Mias Nieuwoudt
Mini-krieketMe. Marinda Everett
SkaakMe. Louise Rossouw
Mini-skaakMe. Christa Du Preez
LandloopMe. Yolanda Oosthuizen
ASA-landloopMe. Yolanda Oosthuizen
TennisMe. Janita Wheeler
GholfMe. Johan Oosthuizen
HokkieMe. Renate Korb
Mini-hokkieMe. Zeldi Duvenhage

Landloop

Van graad 1 tot graad 7 kan deelneem. Almal wat wil deelneem is outomaties deel van die CR – Span … geen hartseer van spankeuses nie. Dalk die enigste sportsoort wat jy nog op jou eie en teen die minimum kostes kan beoefen na skoolopleiding. ‘n Gesonde lewenswyse wat van kindsbeen af aangeleer word. By CR kry atlete wat aan ASA – of USASSA – landloop deelneem erkenning vir provinsiale kleure wat verwerf word. ASA-landloop is tydens kwartaal 2 en 3 terwyl USASSA- landloop in die 3de kwartaal plaasvind.

CR se landloop het ‘n trotse langasem tradisie:

  • Ons het 20 provinsiale atlete opgelewer wat in September 2015 deelgeneem het aan die nasionale landloopkampioenskappe (SA’s).(Ons is ekstra trots op Lika Olivier wat ‘n 2DE plek op die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe behaal het.)
  • 10 Keer sedert 2002 die trofee gewen vir die beste Middelburgbond-landloopspan.
  • 9 Jaar in ‘n ry die Plofkrag middelafstande wisseltrofee te Kanonkop verower.

Kom word deel van die Wildehonde wat saam in groot getalle jag maak op hul prooi.

“ WILDEHONDE SKOP STOF!!!”

Mini-hokkie

Seuns en dogters in die ouderdomme 0/7 – 0/9 speel by CR mini hokkie.  Ons begin elke jaar met ‘n kliniek wat deur die knap Playball-afrigters aangebied word.  Daarna is die opgewondenheid groot oor elke Dinsdag en Donderdag se oefening.  Vyf agtereenvolgende Vrydae is mini hokkie dae waar ons teen verskillende skole van Middelburg en omgewing deelneem.

Skaak

By CR speel ons skaak omdat … dit vir ons lekker is!

Massadeelname is vir ons baie belangrik.   Om hierdie rede begin ons in die eerste kwartaal met mini skaak.  Enige Graad 1-3 leerder wat belangstel kan hier inskakel.  Graad 4 – 7 leerders kry gedurende die tweede en derde kwartaal hulle beurt om meer te leer van die uitdagende spel. Skaak is lekker, MAAR wen is nog lekkerder.  Daarom word die 6 beste spelers van elke ouderdomsgroep uitgesoek tydens ons Interhuistoernooie.  Hierdie spelers word in die ligaspanne opgeneem wat gedurende  die derde kwartaal aan die skaakliga deelneem.  Skaak leer ons sommer gou om met ‘n plan te werk.  Sukses is net ‘n paar skuiwe weg.

Hokkie

Seuns en dogters kry geleentheid om hokkie te speel – in elke ouderdomsgroep van 0/10 – 0/13 is daar seuns- en dogterspanne met twee afrigters by elke span. Ons afrigters woon deurentyd kursusse by en bly op hoogte van die nuutste tendense – beide as afrigters en skeidsregters. Ons is ook baie trots dat daar jaarliks ‘n hele klompie CR’tjies hulle Mpumalanga kleure verwerf.

Gholf

Hierdie sport word met groot erns beoefen en daarom het ons reeds twee keer gekwalifiseer om ons provinsie by die jaarlikse Ernie Els SA Skolekompetisie te verteenwoordig. Ons neem aan skoleligas deel en het ook al provinsiaal gekwalifiseer – waarna van ons spelers aan die SA’s gaan deelneem het om  ingesluit te word in die SA-skolespan. Alle Graad 4’s – 7’s het die geleentheid om deel te word van die skoolspan en dalk die volgende Ernie Els te wees.

Rugby

Verreweg die meeste van CR se seuns speel rugby as wintersport.  Ons speel graag vriendskaplike wedstryde in die voorseisoen en gaan dan op toere ter voorbereiding van ons deelname aan die grootskoleliga vir laerskole.

Alhoewel ons deelname en plesier aanmoedig en probeer om gelyke geleenthede aan elke seun te bied, streef ons ook om kompeterend kragte te meet op die sportveld.  Ons kompeteer teen van die sterkste skole in ons streek en lewer ook suksesvolle, trotse uitslae. Verder bied ons ook geleentheid aan die spelers om hul talente op provinsiale vlak uit te brei en het al heelwat Bokkie- en Pumaspelers opgelewer.

Rugby ontwikkel nie net fisiese nie, maar ook verstandelike en geestelike eienskappe.  Hierdeur word ons rugbyspelers begelei om elkeen ‘n kampioen op sy eie terrein te wees.

Atletiek

Atletiek is ‘n sportsoort wat verskeie geleenthede bied aan enige leerder om hulle potensiaal ten volle te benut.  Met die variasie van spoed, krag, uihouvermoë en veerkrag wat die verskeie items behels kan enige atleet hulle ten volle uitleef.  Atletiek leer deelnemers volharding, deursettingsvermoë, en selfdissipline.  Daar is  geleentheid om deel te neem aan die Interhuisbyeenkoms, vriendskaplike byeenkomste , kring- en distriksbyeenkomste, provinsiale kampioenskappe en SA-kampioenskappe (waar CR se atlete uitstekend presteer).  Atlete neem deel aan naellope, hekkies, lang afstande, verspring, hoogspring, gewigstoot, diskus en spiesgooi.

Pumaki-rugby

Pumaki-rugby gee vir elke seun die geleentheid om deel te neem aan die gewilde sport.  Ons 0/6, 0/7, en 0/8 seuns speel “rip-rugby” en die kans vir beserings is baie skraal.  Balvaardighede en om goed te kan pypkan word bevorder in die sport. Spelertjies leer om in ‘n span saam te werk – en word hulle sommer vinnig geleer om die bal uit te gee aan hulle spanmaats.

Daar is elke jaar ongeveer 150 seuns wat deelneem en elke seun kry ‘n kans om in ‘n wedstryd te speel.  Die ouers weet al dat die tweede kwartaal se Saterdae oopgehou word vir Pumaki-rugby.  Dit is heerlike, gasvrye Saterdagbyeenkomste wat deur ons eie dorp se skole aangebied word.

Netbal

Netbal is ‘n sportsoort waar ons sewe individue het, met net een doel voor oë:  om binne die vier lyne ‘n span te wees, daar te wees vir mekaar en om te alle tye ‘n dame te bly.  Sewe meisies vergeet van hulle self en word een op die baan.  Hulle speel elke wedstryd om dit te geniet en asof dit hulle laaste wedstryd is!  Elke span word toegerus met ‘n afrifter wat ‘n onblusbare passie het vir die sport en wat oor jare se kennis en vaardighede beskik om van elke speler ‘n ster in haar eie reg te maak.  Elke afrigter belê in elke meisie wat voor haar staan in haar menswees en in haar vaardighede om van haar die beste speelster te maak wat sy moontlik kan wees!

Mini-netbal

Mini netbal bied vir elke grondslagfase dogtertjie die geleentheid om deel te wees van ‘n span en die vrolike spangees van CR Swart. Niemand word weggewys nie – hoe meer dogtertjies – hoe meer pret!

Mininetbal is die grondslag van netbal waar daar gefokus word op basiese balvaardighede en hoe om as ‘n span saam te werk.  Dit is ‘n pret-en-plesier-sport.  Ons het vyf mininetbaldae wat groot aftrek in die dorp kry. Oupas en oumas, pappas en mammas, kom met trots na dié dae om na sussie se wedstryde te kom kyk.  ‘n Feestelike atmosfeer heers.

Krieket

Krieket is ‘n sport waar seuns hulle kennis en tegniek vertoon tydens elke wedstryd.  Ons beoog om elke jaar ‘n toer vir die seniors te reël en beoog om dit ook uit te brei na ons juniorspelers.  Hierdie is ‘n spansport maar ‘n enkele individu kan die hele spel verander.  Vaardighede kan die hele jaar lank ingeoefen word – krieketklinieke word ook aangebied om seuns te help om hulle vaardighede te verbeter. CR het sy eie unieke beloning vir seuns wat 50 of 100 lopies slaan, 5 paaltjies neem of ‘n driekuns behaal.

Klubkrieket word in die nabye toekoms by skole bekendgestel sodat die entoesiaste ook naweke kan krieket speel.

Mini-skaak

Hier word aan al die grondslagfase leerlinge (Graad 1-3) die geleentheid gebied om vertroud te raak met die verskillende skuiwe van elke skaakstuk.  Hulle word stap vir stap geleer en aan skaak bekendgestel.  ‘n Professionele afrigter – mnr Chris Smit – help ons hiermee.  Hy staan die leerlinge by in die aanvanklike aanleer van die spel maar doen ook verdere skaakontwikkeling.  Die seisoen word afgesluit met ‘n Interhuis Miniskaak-byeenkoms waar almal die geleentheid kry om kompeterend teen mekaar mee te ding.  Hierna neem sommige leerlinge deel aan die Interskole Miniskaak-byeenkoms.

Tennis

Anders as die meeste sportsoorte kan tennis deur persone in alle ouderdomsgroepe geniet word.  Tennis help nie net om jou fiks te hou nie – dit ontwikkel verskeie ander vaardighede.  Vir die laerskoolleerder ontwikkel tennis onder meer hul hand-oog-koördinasie, groot- en fyn motoriese vaardighede, balans en soepelheid wat baie belangrik is vir hulle skoolwerk.  Dit verbeter ook beendigtheid en algemene goeie gesondheid.  Met enkelspelle leer hulle dink, beplan, uitvoer en met goeie gesindheid en eerlikheid die spel voltooi.  Tydens dubbelspelle verbeter sosiale vaardighede – wat is lekkerder om by ‘n vakansieoord saam met familie of nuwe vriende ‘n spel tennis te gaan speel.  Juniorspanne leer eers al die vaardighede op ‘n halwe baan aan voordat hulle dan na die vol baan vorder.