So het ons begin...
In 1960 is besluit dat Middelburg ‘n tweede Afrikaanse laerskool benodig. Op 30 Januarie 1961 het die skool met ses klaskamers en administratiewe geboue oopgemaak. Mnr. A.S. Olivier was die waarnemende hoof en Mnr. C.W. van der Merwe die eerste permanente hoof. Op 16 November 1962 het Staatspresident C.R. Swart die skool amptelik geopen. Die leerdertal het in 1969 gegroei tot 542 en ‘n skoolsaal en ses nuwe klaskamers is toe bygevoeg.
Verdere tradisies het ontstaan soos die jaarlikse Afrikaanse Koorfees en die Veertjieseremonie vir Gr. 1’s. Die skool ondersteun minderbevoorregte leerders met die Annarie Wessels Fonds, wat na haar dood in 1974, gestig is. Vandag het die skool ongeveer 1 200 leerders.
Met die leuse “Carpe Diem” bou CR daagliks aan geloof en karakter. In 2021 het die skool hul 60ste bestaansjaar gevier en in Mei 2024 het Mnr. Gerhard Smit die nuwe hoof geword.
Ons skoollied

Annerie Wessels Voedingskema
Die verhaal...
Dankie, Annarie Wessels. Danksy jou goedhartigheid is vele honger magies al by CR gevoed.
Januarie 1970 is Annarie Wessels toegelaat as leerling van Laerskool Staatspresident CR Swart. Dit was haar egter nie beskore om haar laerskoolloopbaan te voltooi nie. In die ouderdom van slegs 12 jaar is sy op 3 Julie 1974 oorlede.
Dit was met diepe leedwese dat die leerlinge en onderwysers van haar afskeid geneem het. Die mooi voorbeeld wat sy gestel het as die stil, beleefde en behulpsame leerling sal altyd onthou word. Annarie was ten alle tye bereid om stil te staan en om te sien na die behoeftes van haar maatjies wat minder bevoorreg as sy was. Sy het daagliks ekstra broodjies in haar kosblik saamgebring skool toe vir haar honger maatjies. Getrou was sy in die kleine. Gedurende die roudiens wat gehou is na haar afsterwe, het Mnr. C.W. van der Merwe, voormalige hoof van die skool, melding gemaak van die getroue wyse waarop sy die skool besoek het. Afgetakel deur kanker, reeds baie siek, het Annarie probeer om so getrou moontlik skool toe te kom.
Die moedige wyse waarop sy haar lyding verduur het en die mooi glimlaggie waarmee sy altyd die versekering gegee het dat dit goed gaan, sal ons bybly. Om haar nagedagtenis te vereer het haar ouers, Mnr. en Me. H.J. Wessels, die Annarie Wesselsfonds in die lewe geroep. Met hierdie fonds word daar in die behoeftes van die minderbevoorregte leerlinge voorsien. Deur dié mooi gebaar, leef Annarie Wessels voort in die harte van die dankbare personeel en leerlinge van Laerskool Staatspresident CR Swart.
Hierdie uitreksel kom uit die jaarblad van 1980. Sedertdien het die voedingskema van krag tot krag gegaan. Ons maak staat op skenkings van ouers en die gemeenskap. Leerlinge ontvang twee gebalanseerde etes per dag in die pragtige kombuis wat spesiaal daarvoor gebou is. Me. Ina van Biljon is die voltydse huishoudster wat alle skenkings met oorleg hanteer en self die smaaklike etes voorberei.
Danksy hierdie ontbaatsugtige dogter se onuitwisbare nalatenskap is die voedingskema van Laerskool Staatspresident CR Swart steeds ’n veilige hawe vir vele CR’tjies wat as gevolg van omstandighede buite hulle beheer meer versorging nodig het.

