CR Swart is ‘n skool met ‘n hart vir sy kinders en die gemeenskap. Daarom word daar jaarliks ‘n hele paar omgeeprojekte geloods waardeur ons op tasbare maniere ‘n verskil in die omgewing maak.
Die omgee begin sommer al op ons eie skoolterrein met die Annarie Wessels voedingskema:
Annerie Wessels het in Januarie 1970 as leerder by Laerskool CR Swart ingeskryf – op die ouderdom van 12 jaar is sy in Julie 1974 oorlede. Wat haar maats en die personeel die beste onthou is dat Annarie ten alle tye bereid was om stil te staan en om te sien na die behoeftes van haar maatjies wat minder bevoorreg as sy was. Al was sy al afgetakel deur siekte het sy steeds elke dag ekstra broodjies in haar kosblik saamgebring vir honger maats. Om haar nagedagtenis te vereer het haar ouers die Annerie Wessels fonds in die lewe geroep wat na die behoeftes van minderbevoorregte leerlinge omsien deur ‘n voedingskema waar hulle elke dag by die skool versorg word. Vandag 42 jaar later gaan dié projek van krag tot krag. ‘n Voltydse huishoudster, mev. Ina van Biljon, sorg dat daar elke dag vir die kinders ‘n bord gekookte kos is. Hulle kry ook broodjies en Milo in die winter en yskoue koeldrank in die somer. Verder neem hulle elkeen ‘n kosblik huis toe. Sy hou ook ‘n wakende oog oor ander behoeftes soos skoolklere, skryfbehoeftes ens. Die voedingskema maak totaal en al staat op skenkings van ouers en die gemeenskap. Dit is met groot dankbaarheid dat die voedigskema danksy die ruim skenkings van krag tot krag gaan. Daar word tans 35 kinders op dié manier by die skool versorg.
Ons hoof mnr Pieter Fouché het die volgende huldeblyk by Annatjie se begrafnis gelewer:
Toe ek as jong onderwyser 36 jaar terug by CR begin het, was jy alreeds daar. ‘n Vriendelike sekretaresse wat altyd bereid was om die ekstra myl vir elke onderwyser te loop. Almal het jou oorval met gunsies en takies buite jou werksbeskrywing en jy het dit altyd met liefde en oorgawe gedoen.
‘n Bok vir sports sal ons jou onthou Om agterop ‘n motorfiets te ry, om per trein na die Sonsverduistering in Mesina te gaan kyk, as daar gerinkink word was Annatjie altyd daar! Jou missie in die lewe was om almal rondom jou te sien glimlag en altyd eerder die goue randjie om die wolk as die donker wolk raak te sien.
Annatjie, jy was ons CR-familie se moskombersie, ons almal altyd toegevou met oorvloed liefde, ons bederf met ma-kos, huis-kos en troos-kos en ons soveel vreugde verskaf.
Daar waar jy later jare as huishoudster vir die minderbevoorregte kindertjies elke dag bederf het met ‘n bord voedsame, geurige kos, het jy hulle ook baie lewenslesse en waardes geleer wat hul eendag kan saamvat en nooit sal vergeet nie! Jy het nie net hul magies vol gehou nie maar ook hul stukkende harte heelgemaak, trane afgevee en moed ingepraat as hul nie meer kan nie.
Vir hulle was jy liewe ouma Annatjie met wie hulle al hulle vreugdes en hartseer kon deel! So was jy ook ons mamma vir elke onderwyser by die skool. Nooit sou jy ons wegjaag as ons alweer vir die hoeveelste pouse ‘n broodjie kom bedel nie.
Soms het ons net ‘n wegkruipplek gesoek , ‘n drukkie kom bedel of net bietjie moed gekort vir die moeilike dag wat voorlê en dan was jy altyd daar vir ons.
Jy was vir ons ‘n inspirasie, ‘n lewende voorbeeld dat oudword net in jou kop is en nie in jare getel moet word nie. Hoeveel mense is daar nog wat op 76 jaar elke dag perdry, twee keer per week ballroom- en skilderklasse neem en dit boonop nog met ‘n voltydse werk.
Annatjie, jou plekkie by CR is leeg, maar in ons harte sal jy altyd voortleef. Ons weet Jesus het Sy mooiste blom nou nodig in die hemel! Ons gaan jou ongelooflik mis maar ons gun jou die rus, sonder enige pyn of lyding. Ons almal moet nog baie hard werk om op aarde te doen wat jy lankal bereik het!
Baie liefde,
CR-familie
Red ons planeet! Dis die enigste een met kinders!
Ons kinders en hulle kinders moet nog eendag op planeet aarde woon. Daarom wil ons hulle nou reeds opgewonde oor die omgewing maak en hulle leer dat hulle ‘n verskil kan maak. Elke bietjie help. Ons ondersteun ons Graad R-Pikkewouters se witpapierprojek. Stuur asb enige witpapier (daar kan op gefotostateer wees) vroegoggend na die Graad R-klasse.
Tel: 013 282 6192/3
E-pos: info@crswartls.co.za
Adres: 28 Zuid Straat,
Middelburg,
1050